Werkloosheid styg dramaties

Die poging van sekere elemente in Suid-Afrika om die land onregeerbaar te maak en Jacob Zuma te bevry uit die Estcourt tronk, het nie net 117 mense se lewens gekos nie, en die byna R30 miljard skade aan winkels, hulle geboue en  voorraad, is nie die enigste kostes wat bereken moet word nie.

Honderde klein sakeondernemings se deur is gesluit en die eienaars radeloos, maar voorlopige aanduidings is dat sowat 50,000 mense werkloos geraak het weens die plundering.

Die totale werkloosheid in Suid-Afrika het reeds die 32% merk verby gegaan, en met die nuwe aantal wat sedert verlede week as werkloos aangedui word, kan die syfer baie na aan 40% kom, wat by verre die hoogste is wat nog ooit in die land aangeteken is.

Die werkloosheid plaas geweldige druk op die ekonomie, met duisende mense wat deur die staat gehelp moet word, en die Ontvanger van Inkomste verloor miljoene rand aan belasting wat deur die ondernemings betaal word, afgesien van die verkoopbelasting wat verlore is.