Voedsel krisis binne weke

Ingeligte bronne beweer dat die land binnekort groot voedsel tekorte kan verwag nadat die strooptogte winkels en supermarkte oor ʼn wye gebied rot en kaal gesteel het.

In plekke soos Vosloorus is winkels dolleeg, en staan die rakke sonder een enkele artikel, terwyl vele ander swart gebiede in Gauteng en in Durban, Pietermaritzburg en omliggende gebiede, steeds geplunder en gestroop word van voorraad.

Die moontlikheid om alle soorte voedsel vinnig in winkels te kry word betwyfel aangesien menige winkels en supermarkte nie enige voorraad sal bestel voordat die onluste beëindig is nie. Dit beteken dat daar ʼn ernstige tekort kan ontstaan, en dat mense in daardie gebiede hulle toevlug sal neem na die tradisionele blanke gebiede se winkels.

Menige winkelsentrums het besluit om hulle perseel gesluit te hou en word bewaak deur sekuriteitspersoneel wat in baie gevalle hoogs doeltreffend is in beveiliging van geboue.

Dit alles maak dat die gewone huishouding se voedselvoorraad nie aangevul kan word nie, en slegs kragtige optrede van die veiligheidsmagte kan verseker dat die winkelier weer sy deure oopmaak, word gesê.