Virus in rioolwater wek kommer

Dit is vir TLU SA baie kommerwekkend dat daar reeds spore van die koronavirus se verskillende variante in rioolwater in die Wes-Kaap bespeur word.
Volgens die Mediese Navorsingsraad (MNR) het hulle deur toetse met die afvalwater-gegronde waarskuwingstelsel bevind die Delta-variant is teenwoordig in 25 aanlegte in die Wes-Kaap.
“Wat ons bekommer is hoe lank die virus in die water bly en of dit in die waterstelsel opgeneem en uiteindelik in ons landbouprodukte teenwoordig sal wees,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA.
Volgens die Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap (EPA) kan die koronavirus met standaard ontsmettingspraktyke by rioolwerke behandel word. Die virus se voortbestaan hang gewoonlik van die temperatuur, konsentrasie van soliede en organiese materie, die pH-vlak en die hoeveelheid van ontsmettingsmiddel wat gebruik word, af.
“Dit is dus ‘n redelik eenvoudige oplossing, maar dan moet ons in gedagte hou dat ons in Suid-Afrika is, waar ons water reeds veel te wense laat en vervuil is van riool en ander besoedeling,” sê mnr. Geldenhuys. “Ons vraag is dus hoe lank die virus in onbehandelde of swak-behandelde water sal oorleef en wat die gevolge daarvan sal wees.”
TLU SA is verder besorg dat die munisipaliteite se swak bestuur van rioolstelsels en -werke bewys dat daar bloot nie die kundigheid bestaan om hierdie situasie te hanteer nie. Die regering stel hiermee die land se inwoners verder bloot aan infeksie deur die bewaring van lewensbelangrike hulpbronne te ignoreer.
TLU SA doen ‘n dringende beroep op die regering en veral die departement van huisvesting, water en sanitasie – as die voog van water in Suid-Afrika – om ag te slaan op hierdie toetse en spoedeisend met ‘n werkbare oplossing – ook vir die algemene bestuur van waterbronne – vorendag te kom.