Uit my Kuierkombuis

Jare gelede het ek een langnaweek saam met my peetouers, neef en niggies na ‘n vakansieoord gegaan.  Deur die dag het ons behoorlik baljaar en geswem. Aandete was dus ‘n hoogtepunt, voordat ons bedwaarts gekeer het.  My tannie kon lekker kosmaak. Een van die aande het sy uie gebraai,  daarna van die oorskiet aartappels van die vorige aand in blokkies gesny en bygevoeg en heel laaste blikkies boeliebief wat opgesnipper was. Die vleismengsel is toe saam met rys voorgesit. 

My Ma het weer ‘n ander weergawe vir ons gemaak.  Ook uie gebraai,  boeliebief ingesnipper, maar dan het sy skyfies piesang bygevoeg en dié mengsel op ‘n roosterbroodjie voorgesit.

Onderstaande gereg,  is dus my weergawe van die bekende bestanddele.  ‘n Maklike en eintlik vinnige gereg

Macaroni en boeliebief

½ pakkie (250g) macaroni

1 groot ui, in skyfies gesny (kan 2 uie gebruik)

15 ml botter

1 blik goeie gehalte boeliebief

60 ml blatjang

Sout en peper na smaak

1 piesang in skyfies gesny

Metode:

  1.  Kook die macaronistukkies soos aangedui op die etiket tot gaar, dreineer en skep in opskepskottel.
  2. Soteer die ui in die botter tot gaar maar nog ferm en voeg die boeliebief, opgesny in blokkies daarby.
  3. Voeg die blatjang by en geur na smaak met sout en peper.
  4. Skep die vleismengsel bo-oor die gaar macaronistukkies.
  5. Braai die skyfies piesang net vinnig in 10 ml botter en skep bo-op die vleismengsel.
  6. Bedien die gereg saam met ‘n mengelslaai.
  7. Vullend en geurig en vinnig om voor te berei.

**  U kan (soos aangedui) 2 uie opsny en soteer vir ekstra geurigheid.

**  Piesangs kan ook vermeerder word na 2 piesangs.

**  Hierdie resep is genoeg vir drie tot vier porsies veral wanneer ‘n slaai daarmee saam bedien word.