Tokio Olimpiese Spele wek kommer

Die een voorval van Covid-19 infeksie wat ʼn persoon van die Olimpiese Spele opgedoen het, was die begin van groter probleme wat in die Olimpiese dorp van Tokio ontstaan het.

Berigte wat Maandag vrygestel is, lui dat minstens tien mense in die Tokio dorpie van die Spele nou reeds infeksie opgedoen het, waarvan twee glo deelnemers is en die ander 8 waarskynlik afrigters en bystand personeel is.

Onbevestigde berigte lui dat drie Suid-Afrikaanse atlete in kwarantyn geplaas is in Japan weens infeksie van die virus.

Ingeligte bronne beweer dat dit slegs die begin van groter uitdagings is wat die Spele in Japan moet trotseer.

Die Olimpiese Spele wat deur Japan gehuisves word, sou in 2020 plaasgevind het, maar die wêreldwye pandemie van die koronavirus het die Spele se organiseerders genoodsaak om dit te verskuif na vanjaar.

Kommer bestaan dat die infeksie wat nou aangeteken is, kan lei tot die onttrekking van baie spelers wat sou deelneem, en volgens die meerderheid inwoners van Tokio verkies hulle dat die Spele gekanselleer word, maar die betrokke organiseerders en borge sê hulle het miljarde dollar spandeer, en kan nie nou kanselleer nie.

Die besluit dat geen toeskouers in die stadions toegelaat sal word nie, het ook ʼn negatiewe uitwerking op baie mense wat nou op TV daarna sal moet kyk, terwyl spelers tevrede sal moet wees dat die aanmoediging en gejuig van die toeskouers vanjaar sal ontbreek.

Met slegs ʼn paar dae oor voordat die Spele amptelik sal begin, word die vrese al groter dat ʼn groter verspreiding van infeksie kan begin en groot ontwrigting veroorsaak.

Laat Dinsdagmiddag is berig ontvang dat die Olimpiese Spele dorpie reeds 71 gevalle van infeksie het, waarvan verskeie persone as beamptes en afrigter siek geword het, en enkele atlete en deelnemers is ook in afsondering geplaas, terwyl die Spele in twee dae se tyd begin.