Swaar reën laat geboue inmekaarval

Ten minste ses woonhuise het inmekaar gesak en meer as 30 mense word vermis in Duitsland nadat swaar en aanhoudende reen in die weste van die land uitgesak het.

Die owerheid het gewaarsku dat minstens nog 25 woonhuise gaan ineenstort as gevolg van die vloede, en wat paaie en strate in klein riviere omskep het.

Woordvoerders in die Rhein landstreek sê dit is die hewigste reënval wat die gebied die afgelope 5 dekades gehad het, en talle voertuie is deur die stormwater meegevoer terwyl die distrikte van sekere dorpe genoodsaak was om ʼn noodtoestand af te kondig.

Reddingswerkers sê die baie reën het chaos veroorsaak en kleiner dorpe wat nie oor die nodige geriewe beskik nie, se mense kry swaar om die vloedwater se skade te herstel.

Die noodtoestand help egter dat die weermag se hulp ingeroep kon word om reddingswerkers by te staan en mense na veiligheid te bring. Water en elektrisiteit is in baie gebiede afgesny en dorpe sukkel om die herstelwerk vinnig gedoen te kry weens die waterstrome wat steeds verhinder dat voertuie kan beweeg.