Sandstorm oordek Sjinese stad

ʼn Massiewe muur van sand wat nagenoeg 100 meter hoog is, aangedryf deur sterk wind, het uit die Gobi woestyn in die noordweste van Sjina afgestuur op ʼn stad met duisende mense.

Dunhuang, is ʼn stad met ʼn kleurvolle geskiedenis wat duisende toeriste elke jaar lok, is vasgevang in die enorme sandstorm wat die ergste is in die stad se geskiedenis.

Toe die sandstorm die stad Sondag oortrek, was dit byna nagdonker, en sowat 10 minute later was die muur van sand deur die stad en het sy spoor van verwoesting agter gelaat terwyl daar geruime tyd ʼn doodse stilte geheers het voordat mense tot verhaal gekom het.

Alhoewel die sandstorms van tyd tot tyd die stad oordek, is dit nie in die somer soos vanjaar nie, en hoegenaamd nie so massief soos die afgelope storm nie, het ʼn woordvoerder van die owerheid gesê.