SA Raad van Kerke se aanbevelings wek twyfel

As die SA Raad van Kerke werklik aanbeveel het dat amnestie aan die plunderaars gegee moet word sodat hulle in ruil daarvoor die gesteelde goedere moet terug besorg aan die handelaar waar dit gesteel is, sal die chaos nog verder vergroot.

Dit is die mening van deurwinterde sakemanne wat hulle misnoeë uitgespreek het oor die Kerke wat werklik dink so ʼn stap sal sinvol wees.

Die sakelui sê in ʼn gesamentlike verklaring dat die skelms veel slimmer is as om te doen wat die Kerke aanbeveel. Want wat hulle gaan doen is om van hulle eie plunderaars voor te hou as handelaars wat besteel is, en neem dan die gesteelde goedere terug na die mede-diewe se “winkel”, en siedaar – amnestie word verkry.

Die groep sakemanne van Pretoria sê die SA Raad van Kerke se aanbevelings kom verdag voor, en wek die indruk om die skurke en vandale weereens vry te spreek asof hulle geen misdaad gepleeg het nie.

Die sakelui sê die diewe kan 10% van die gesteelde goedere terug besorg, en dan amnestie verdien – en beskou daarmee die Kerke se voorstelle as absurd en belaglik.

Die plunderaars het miljarde Rand se goedere gesteel en weggedra, en doen dit onder die vaandel van “hongerte en armoede”, maar sitkamerstelle en skottelgoed wasmasjiene is nie eetbare goed nie, sê die sakelui.