Regering aan die hand van die Woord van God – aflewering 2

God het in Sy alwyse beskikking voorsiening gemaak vir menslike gesagstrukture, wat met gesonde verstand, maar met die tydlose maatstawwe  van Sý Woord en Wet, sodat gelowige leiers praktiese wetgewing en raamwerke kan daarstel soos omstandighede en tegnologie verander.

Hierdie proses sal slegs (menslik gesproke) werk, indien die uitsluitlike grondslag en normatiewe, Bybels-Christelike lewens- en wêreldbeskouing die vertrekpunt is en bly. (Sola Scriptura, toegepas!)

Wanneer ons hierdie beginsel verstaan, word mense toegerus met die insig om oplossings, en diegene wat die oplossings voorstel, te toets aan die onfeilbare maatstaf wat God vir ons beskik het, juis sodat ons dwalings kan toets en vermy – ook buite die kerk, sodat ons die gesagsdraers in ons samelewing regmatig tot verantwoording kan roep, dat ons die misleiers kan ontbloot en hul strikke kan vermy.

Teonomie en teokrasie is die hoekstene vir enige gesprek oor regering of politiek.

(lees gerus Totius se verhandelings hieromtrent)

Ons strewe moet wees na ʼn teonomiese samelewing, met teokraties-begronde regeringsstrukture.

Die kritici wys graag daarop dat “Bybelse teokrasie” reeds in Ou-testamentiese tye ten einde gebring was.

Dat dit beëindig is toe direkte, Goddelike regering (tye van Moses, Joshua en die Rigters ten einde geloop het). 

Terwyl deels korrek, in die sin dat direkte Goddelike regering mettertyd verander het, is dit slegs deel van die argument. 

In plek van Sy deurlopende direkte ingrype in die lewe van sy kinders, moet ons die volgende waarhede verstaan:

GOD REGEER ALTYD, DEUR CHRISTUS, OOR ALLES. 

HY BESKIK, TOT ONS BESWIL, ELKE ASPEK VAN ONS WEL EN WEË EN HÝ VOER TOT AAN DIE EINDE VAN TYD EN VERDER SÝ RAADSPLAN DEUR.

God beskik vir ons die nodige strukture, óók die voorskrifte oor hoe daardie strukture moet funksioneer én die kwalifikasies van die persone wat hier en nou (in elke tydwrig) daaraan uitvoering moet gee.

Juis daarom leer die Bybel ons hoe ʼn gelowige leier se geloof, oortuigings en lewenswandel moet lyk.

(hieromtrent kan u gerus self verdere Bybelstudie doen.)

Die Wet van God ís die hoogste wetsgesag vir elke land.  Dit geld elke mens, wie dit glo en nastreef, óók wie dit verwerp – tot hulle uiteindelike verdoemenis.

In die Christen-staat bestaan daar dus nie behoefte aan enige ander grondwet nie.

Die tien Woorde bied díé perfekte ideaal vir elke staat en elke burger.

Om dan die strukture van die staat (wetgewend, juridies, uitvoerend) te omskryf op grondslag hiervan is die naaste wat mense in hierdie lewe aan reg, regmatig en regverdig kan kom.

Baie van die beginsels vir die algemene strukture en vir die wetgewende raamwerk wat die sosiale en ekonomiese lewe behoort te beheers, vind ons óók in die Skrif.

Kritiek dat “tye verander het” of dat sekere tegnologië nie in die Bybel vermeld word nie, is kwaadwillige twis.

            Die Bybel is tydloos.

Wat nie direk in die Bybel genoem word nie, was nogtans aan die Outeur bekend.

Kort gestel, terwyl die Wet van God geen verband het met moderne grondwette en aktes van menseregte nie, bly dit nogtans gelowiges se normatiewe riglyn vir enige grondwet of wetgewing.

Juis wanneer die vals en vernietigende afgodery van humanisme, en hul misleidende “menseregte”, gevier word, moet ons opnuut teruggryp na die ankers van God’s Woord.

Want géén politieke oplossing, uitgewerk los van God’s Woord, kan enige standhoudende antwoorde bied nie.