Regering aan die hand van die Woord van God – aflewering 1

Die Christelike lewens- en wêreldbeskouing bied aan ons as gelowiges ook daagliks, praktiese troos, rigting en begeleiding.

Omdat ons lewensbeskouing onvoorwaardelik setel in die waarheid dat God soewerein ís, aanvaar ons dat elke lewensterrein, elke aspek van die mensdom en die verloop van die wêreldgeskiedenis deur Sý wil gerig word.

(daarom, wanneer ons geloofsterme gebruik, moet dit verstaan word as verwysend na slegs die Christelike geloof, van suiwer gereformeerde oortuiging, tot uitsluiting van enige ander)

Gedurende Februarie was ons weer eens toeskouers tot die jaarlikse SONA en die begroting om die nasiebou doelwitte van die huidige maghebbers deur te voer.

Twee rigtinggewende beleids-uitsprake van ons lands-regering.

Na meer as ʼn kwarteeu van mislukking-op-mislukking soek mense naarstiglik steeds na sosio-politieke oplossings; na ons daaglikse wel en weë het baie Christene hiermee begrip, doen ons op verskillende terreine bes bykans outomaties moontlik mee. 

Met een belangrike verskil:

Christene soek na standhoudende oplossings, geskoei ín God’s Woord, uitgevoer aan die hand ván God’s Woord.  Sonder God is alles immers tevergeefs.

Of ten minste is dit hoe elkeen wat hom- of haarself “Christen” noem, behoort te doen.

Dat hierdie boodskap nie luid verkondig word nie, is ʼn besonder ooglopende beskuldiging teen die kerk van vandag.

ʼn Kerk wat toenemend lyk soos die Roomse kerk van die sestiende eeu …

ʼn Kerk wat toenemend misluk weens gebrek aan kerklike leierskap intern, en wat mislukking in die samelewing veroorsaak deur die mislukking om gelowige leiers te help vorm.

Dit is noodsaaklik dat elke Christen enkele waarhede as grondliggend sal begryp wanneer ons praat oor leierskap, regerings, politiek en die noodsaaklike (dog tans afwesige) Bybelse grondslag daarvan:

  1. Die skeiding tussen kerk en staat is ʼn onderskeid in roeping, op komplimenterende gesagsterreine.

Terwyl die kerk normaalweg nie op die gesagsterrein van die staat mag optree nie, móét die kerk profeties die roepingsterrein van die staat belig, begrens en daardeur die roepingsdoel van regerings verkondig en ondersteun.

Die kerk moet waardedraer wees, óók op terrein van die staat. (soos op élke lewensterrein)

  1. Die doel van die staat is om die Christelike sosiale maatskappy te bevorder, beskerm en in die handel en wandel orde te handhaaf – die orde soos omskryf en voorgeskryf in die Skrif alléén.
  2. Die kerk en staat is op hul onderskeie roepingsterreine gesagsdraers.  Die kerk mág op die terrein van die staat tree met profetiese advies, vermaning en selfs oproepe tot gehoorsaamheid aan die lewensbeskoulike bepalings van die Skrif.

Die staat daarenteen het géén wederkerige roepingsplig, of reg, nie.

  1. Die voorgaande terreine en begrensing is Bybels, deur God ingestel in sy alwysheid, selfs voor die sonde van aandrang op ʼn eie koning.  (Deuteronómium 17)
  2. Die Wet van God is normatief vir alle oorwegings van reg, regmatig of regverdig.  Die Wet is God se kort gestelde wil vir die mens.

Die tafels van die Wet het géén verband met menseregte, humanistiese beskouings of die moderne liberalisme nie.

(hierdie is ʼn gruwelike dwaling en kettery wat die afgelope dekades baie veld gewen het onder lou kerke wat nominaal Bybels wil voorkom, terwyl hulle reeds wêreld gelykvormig is)

Voorts, wat die Woord van God gebied of verbied is nie punte van debat nie.

Slegs opregte vrae oor die toepassing van elke gebod en die handhawing van elke verbod is aanvaarbaar, altyd binne raamwerk van ʼn verbintenis tot ʼn godvrugtige, roepingsgehoorsame lewe.