Plunderaars steeds besig

Suid-Afrika is nog nie ontslae van die diewe en plunderaars wat die ekonomie verlede week ʼn R50 miljard skade berokken het nie, want die regering waarsku dat die onrus weer kan opvlam.

Alhoewel daar meer as 2,000 diewe en plunderaars gearresteer is en tans nog in aanhouding verkeer, is daar nog honderde wat nie gearresteer is nie en steeds poog om iewers te steel.

Volgens die Nasionale Vervolgings Gesag word die diewe en plunderaars in drie kategorieë ingedeel, ten einde die graad van oortredings te bepaal.

Groepe soos “beplande misdaad” wat vooraf deur die misdadigers uitgewerk is, en diegene wat slegs op die ingewing saam met ander die plundery begin het, is verskillend en sal glo verskillend hanteer word, is gesê.

Intussen is berig dat boukontrakteurs wat die herstelwerk gaan doen, met nuwe probleme te kampe sit, want boumateriaal, werkers, vervoer van die materiaal, is tans nie so beskikbaar soos waaraan hulle gewoond is nie, met die gevolg dat veel groter koste aangegaan word om met die werk te begin.

In sommige gevalle is kontrakteurs nog onrustig om te begin aangesien die moontlikheid van hernude gewelddadige plundery weer kan begin.

Daar bestaan ook onrustigheid dat kontrakteurs se werkers aangeval kan word. Die dood van sowat 270 mense die vorige week, is voldoende rede waarom versigtigheid nodig is, word gesê.