Merkel bied hulp aan geteisterdes

Die uittredende Bondskanselier van Duitsland, Angela Merkel, het finansiële steun beloof aan die erg geteisterde vloedramp gebied in die westelike deel van die land.

Die kanselier het die afgelope naweek ʼn besoek gebring om haar te vergewis van die omvang van die skade wat deur vloedwaters veroorsaak is, en wat beskou word as die ergste wat nog in Duitsland ondervind is.

Angela Merkel se regering het meer as €300 miljoen bewillig as hulp om infrastruktuur en klein sakeondernemings te help/

Baie woonhuise en klein sakeondernemings is vernietig of onherstelbaar beskadig, en die sakelui sal nie weer ʼn onderneming kan begin sonder staatshulp nie.

Die Minister van Finansies, Olaf Scholz, het gesê die aangeleentheid is van dringende aard en hulp sal nog gedurende hierdie week gegee word sodat mense weer kan begin met hulle herstel programme.

Die minister het gesê opdrag word gegee dat die herbou van woonhuise, sake geboue, strate en brûe dadelik kan begin om mense so gou moontlik weer op eie bene te laat staan.

Na raming sal elke sakeman sowat €10,000 (R200,000) van die staat ontvang en in baie gevalle sal die staat die geboue ook herstel of nuut oprig.