Inkomstediens mik na welgestelde mense

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se kommissaris, Edward Kieswetter, sê die belastinggaarder het aan 275 welgestelde individue briewe gestuur.

Die welgestelde persone het klaarblyklik finansiële belange in die buiteland wat onder die nuwe Hoë Welvaart Individue Segment sorteer as belasting betalers.

Hy sê vanaf 1 Julie het 108 van die 275 belastingbetalers gereageer op die brief van die Inkomstediens, waarvan sommige dadelik hulle gegewens opdateer het terwyl ander gevra het dat meer tyd gegun word.

Volgens die Inkomstediens is dit slegs die begin, en het die kommissaris gewaarsku dat die proses momentum sal kry, veral in die lig daarvan dat die owerheid glo daar is belasting betalers in die land wat gesamentlik meer as R400 miljard in die buiteland het.

Die Inkomstediens het sedert Februarie vanjaar ʼn afsonderlike “welvaart eenheid” tot stand gebring om op die welvarende individue van die land te fokus.