Durban wil Eskom uitskakel

Die metro streek wat Durban insluit, sal waarskynlik een van die eerste stede wees wat hulle losmaak van Eskom deur van privaat ondernemings gebruik te maak wat aan die streek krag kan voorsien.

Die streek wag glo voorstelle in van privaat ondernemings wat krag wil voorsien op ʼn volhoubare stelsel, en het verlede Vrydag versoeke gepubliseer vir inligting om krag te verskaf wat sowat 400 megawatt sal moet wees.

Kenners sê dit sal ʼn goeie projek wees as dit redelik gou kan begin, want dit sal groot verligting bied aan Eskom wat tans swaar druk verduur om in die aanvraag te voorsien.

Die omskakeling sal ook die sowat 4 miljoen inwoners van die gebied bevoordeel as hulle ontslae kan raak van beurtkrag, en boonop van hernubare energie kan gebruikmaak, wat ook die grootste hawe in Suid-Afrika sal help om sy funksies beter te verrig.

Die besluit van die streek kom nadat die regering besef het dat Eskom nie die mas opkom nie, en toegewings gemaak het dat munisipale gebiede self krag mag voorsien aan hulle gebiede.