Bosbrande: Stad in Siberië bedreig

Inwoners in die Siberiese stad Yakutsk is gewaarsku om eerder in hulle woonhuise te bly weens die erge rook wat oor die stad hang van groot bosbrande in die nabyheid.

Die geweldige bosbrande het reeds groot probleme met verkeer veroorsaak, en meer as 2,200 brandbestryders werk dae lank in ʼn poging om die vlamme uit te wis.

Alhoewel dit ʼn jaarlikse verskynsel is dat bosbrande in die groot woude van Siberië ontstaan, is dit glo vanjaar baie erger, en die hele stad is in half donker gehul met rook en as wat neersif.

Die lughawe het alle vlugte van en na die stad opgeskort, en terwyl die duisende brandbestryders poog om die 190 verskillende brande te blus, word nagenoeg 50 plattelandse dorpe ook met rook en as omhul.

Die sowat 340,000 inwoners van die stad Yakutsk vrees dat die brande kan versprei na geboue, maar kenners reken die brandbestryders is daarop ingestel om die brande weg te hou van die stad en die kleiner dorpe.

Die Kremlin skryf die erge brande toe aan klimaat verandering wat deur die uitermatige hoë temperature verband het, maar beweer ook dat van die brande deur nalatigheid ontstaan het.

Nagenoeg 800,000 hektaar woude het reeds in vlamme opgegaan, en brandbestryders sê 100,000 hektaar nuwe plekke het binne 24 uur begin brand.