Blaam val op regering vir onluste

TLU SA is teleurgesteld in Pres. Cyril Ramaphosa en die ANC-regering se hantering van die situasie in Suid-Afrika. Om bloot ‘n pleister te plak op die groot gapende wond – ekonomiese verval – gaan beslis nie die probleem oplos nie.
“Dit is een ding om te sê ons moet nie afbreek nie, maar die ekonomie eerder opbou,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Dit is iets heeltemal anders om inderdaad so te lei en die regte ekonomiese beginsels bo enige ander aspekte te implementeer dat die ekonomie wel opgebou kan word.”
Dit is verkeerd om te dink die onluste wat die land op die oomblik lam lê is net ‘n gevolg van ontevrede Zuma-ondersteuners. Dit was bloot die vonk in die kruitvat van wat TLU SA reeds lankal voorspel. Die land se werkloosheidskoers staan op 43%. Onder jongmense is dit meer as 46%. Die ANC-regering het hierdie sosio-ekonomiese probleme geskep en dit sal ‘n probleem bly totdat die beginsels vir ekonomiese groei in plek is.
“President Ramaphosa dit is jou verantwoordelikheid om om te sien na die veiligheid van elke Suid-Afrikaner,” sê mnr. Geldenhuys. “Dit is ook die regering se verantwoordelikheid om te verseker dat die situasie in die land gunstig is vir belegging. Jy faal in jou primêre verantwoordelikheid as die president van die land. Die land brand en dit is julle skuld. Julle moes lankal reeds halt geroep het met beleide soos onteiening sonder vergoeding en regstellende aksie. Julle moes ook lankal reeds ferm opgetree het teen korrupte politici en amptenare. Dan was daar nou stabiliteit in die land.”
Die heersende onluste het reeds ‘n negatiewe impak op die voorsiening van landbouprodukte. TLU SA voorsien dat ‘n toename in plaasaanvalle en die verniel van landbouprodukte in die gees van anargie verwag kan word.
“Ons spreek ons ten sterkste uit teen die barbarisme wat nou in die land geld,” sê mnr. Geldenhuys. “Beskaafde mense wend hulle nie tot misdaad wanneer hulle oor iets ontevrede is nie.
“Ons wil elke Suid-Afrikaner, maar veral ons landbou-lede aanmoedig om paraat te wees.”