Bankiers waarsku teen geld tekort

Die sabotasie, plundering en diefstal wat aan die orde van die dag is in Suid-Afrika het ook die bankwese ʼn ernstige knou toegedien, en verskeie waarskuwings is aan kliënte gestuur terwille van almal se beskerming en veiligheid.

In baie gevalle het kliënte SMS boodskappe ontvang waarin die toestande by banke uiteengesit word en mense gevra word om nie die takkantore te probeer besoek as dit nie uiters dringend is nie, aangesien die Zuma-bendes en vandale klaarblyklik tot enige misdryf in staat is.

Banke het die afgelope dae tientalle takkantore gesluit ter wille van die veiligheid van personeel en kliënte, terwyl OTM punte se geld onttrek is om verdere skade te probeer voorkom. Tientalle OTM punte is egter onherstelbaar beskadig deur die diewe en vandale, en miljoene Rand se skade aan die bankwese se infrastruktuur is reeds ondervind.

Bankiers sê die moontlikheid van ʼn geld tekort is nie uitgesluit nie aangesien baie OTM punte gesluit is en ander ernstig beskadig is deur die plunderaars.

Die banke beveel aan dat mense eerder gebruik maak van die digitale bank fasiliteite wat veel veiliger is as om met kontant of met kredietkaarte te probeer inkopies doen.

Baie takkantore van banke is gesluit, en die sluiting van OTM punte is van die belangrikste redes waarom ʼn tydelike tekort aan geld ondervind kan word.