Vulkaan: Chaos bars los in Kongo

Mount Nyiragongo, die vulkaan naby die stad Goma in die Demokratiese Republiek Kongo is die mees aktiewe in Afrika, en het die afgelope naweek algehele chaos veroorsaak toe die owerheid gewaarsku het dat ʼn opvolg uitbarsting verwag word.

Meer as 400,000 inwoners het inderhaas die stad probeer verlaat, en dit het tot algehele chaos gelei weens die swak infrastruktuur.

Die dreigende rook en as wolke het die inwoners van die stad genoeg rede gegee om die stad te verlaat, maar dit het nie net ʼn groot saamdrom van mense veroorsaak nie, maar verkeersknope het vir talle ongelukke gesorg.

Meer as ʼn derde van die stad se inwoners het gevlug, en ingeligte bronne sê die verlate woonhuise word deur diewe beroof en geplunder.

Met die eerste uitbarsting is talle woonplekke deur die lawa vernietig, en inwoners het kennis geneem van die gevaar van die lawa, en verkies om liewer na veiligheid te vlug.