Uit my Kuierkombuis

Die winterkoue het ons bereik!  Later in die week is die voorspelde temperatuur tot 1ºC!  ‘n Mens begin dadelik dink aan heerlike dik sop ………. Maar daarby sal ons nog kom!  Die ander warmte is natuurlik iets warm om te drink soos warm sjokolade!  Wanneer jy die winkel produk koop,  is dit nogal duur en weet jy ook nie altyd of die spesifieke handelsmerk se warm sjokolade regtig in jou smaak gaan val nie!  So kry ek op bakkiesblad die volgende heerlike bêremengsel wat ek bietjie aangepas het en wat steeds heerlik,  romerig en warm is!

BÊRE-MENGSEL VIR WARMSJOKOLADE

500 ml volroom melkpoeier (ek het afgeroomde “skimmed” melkpoeier gebruik)

200 ml versiersuiker

125 ml cremora of verromer

90 ml kakaopoeier

20 ml fyn koffiepoeier

2,5 ml sout

Metode:

  1. Sif bestanddele twee keer saam sodat dit goed gemeng is. 
  2. Bêre in ‘n houer wat goed seël.

** Die hoeveelheid maak ‘n groot Consol glasbottel amper driekwart vol!

  1.  Skep 4 opgehoopte teelepels in ‘n beker,  vul driekwart met kookwater terwyl jy met teelepel roer en vul die beker met warm melk op.
  2. Indien jy ‘n soettand het,  kan ‘n teelepel suiker bygevoeg word.

Geniet die warm-soet-sjokolade-heerlikheid! 

**  Hierdie mengsel is ook ‘n oulike geskenk om vir iemand in ‘n 200ml glasbottel met ‘n mooi doilie oor te gee.  Gee sommer die resep ook saam indien hulle dit self ook wil maak!