Motor rubriek – Hyundai Creta 1,5 Executive IVT

Die Hyundai is een van die bekendste motors wat vanuit die Oosterste lande verskaf word is een van die gewildste motors op ons land se paaie.

Dit word in Indië gebou en die werk is deeglik gedoen. Afronding is van ‘n hoë standaard en wanneer die deur aan die bestuurder se kant oopgemaak word, het die onderste gedeelte van die dikraam stuurwiel ‘n plat oppervlakte wat dit vir die bestuurder gerieflik maak om in te klim. Op die stuurwiel self is daar ‘n verskeidenheid van skakelaars gemonteer vir die beheer van die toerusting. Die sitplekke is met kunsleer bedek en die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar vir hoogte en beweging vorentoe en agtertoe en ‘n gemaklike sitposisie kan ingeneem word. Die stuurwiel is vir hoogte en reikafstand verstelbaar en wanneer die bestuurder deur die boonste gedeelte van die stuurwiel kyk, is ‘n wye reeks van instrumente sigbaar wat onder andere die snelheidsmeter en toereteller insluit.

Die binne-afwerking is van ‘n hoë standaard en in die middelste gedeelte van die instrumentpaneel is die luguitlate van die lugversorger bokant die aanraakskerm gemonteer en die aanraakskerm maak voorsiening vir Apple CarPlay, Android Auto en Bluetooth funksies. ‘n Tru kamera met die nodige sensors is standaard en dit is ‘n nodige hulpmiddel wanneer daar geparkeer moet word. Onder die aanraakskerm is daar ‘n wye reeks van toerusting gemonteer met beheer skakelaars om die nodige te doen. Die ratkies hefboom van die CVT ratkas is in die middel konsole gemonteer. In die middel konsole is daar bergplek vir kleiner items met die handrem langs die bestuurder se sitplek. Vir die vermaak van die insittendes is daar ‘n radio met stembeheer en verskeie ander funksies.

Deel van die veiligheid stelsel van die Creta is LED dag hoofligte en ‘n hele aantal lugsakke wat hulp verleen om in die geval van byvoorbeeld ‘n botsing dat die insittendes se beserings beperk word. ‘n Verdere veiligheidsaspek is die ABS remstelsel met EBD hulp. 300mm geventileerde remskywe op die voorwiele en 262mm soliede remskywe op die agterwiele verseker dat die voertuig met gemak en veiligheid tot stilstand kan kom.

Vir die gerief van die passasiers is daar seker gemaak dat almal ‘n gerieflike sitposisie kan inneem. Vir die agterste passasiers is daar plek vir selfs die met lang bene en daar is 655mm beskikbaar. Wanneer dit nodig is om die bagasieruimte te vergroot, kan die agterste sitplek se leuning, wat verdeel in ‘n verhouding van 60:40 platgevou word en dan is daar ‘n aansienlike verhoging in die volume van die bagasieruimte.

Op die sierrooster is daar mildelik gebruik gemaak van chroomafwerking en dit verhoog die algehele beeld aan die voorkant van die voertuig. Die hoofligte en kolligte is in die voorste buffer gemonteer en staaf met mat silwer afwerking sorg vir afwerking aan die voorkant.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is daar ‘n dwars gemonteerde, vier silinder inlyn, elektroniese brandstof inspuiting, petrol kragbron van 1497 kubieke sentimeter in plek. Hierdie kragbron voorsien 84 kW krag tussen 6300 en 6500 o.p.m. en die wringkrag is 143 Nm teen 4500 o.p.m. Hierdie kragbron stel die Hyundai instaat om in 11,47 sekondes te versnel van 0 tot 100km/u en volgens die vervaardiger is die topsnelheid 170 km/u terwyl die brandstofverbruik 6,3 l/100 km is. Vier kleppe per silinder laat die enjin “asemhaal” en die drukverhouding is 10,5 tot 1. ‘n CVT ratkas doen die krag oorbrenging na die voorwiele met ESC hulpmiddel vir wegtrek teen ‘n skotige opdraande.

Van die kant gesien is daar allooi wielnawe in plek wat geskoei is met Niexen N’priz CX bande met ‘n grootte van 215/60 R17 bande. Op die dak van die Creta is daar reëlings aangebring maar dit is kosmeties van aard en kan nie gebruik word om goedere op vas te maak nie. In die wielboë is daar plastiek skerms aan gebring om die bakwerk te beskerm teen beskadiging wanneer daar op ruwe paaie gereis word. Padgedrag is van hoogstaande gehalte en die Creta is veral op die snelweg in sy element. Wat uiteraard verantwoordelik is vir die goeie padgedrag is die veerstelsel wat gebruik word. Op die voorste veerstelsel word daar gebruik gemaak van onafhanklike MacPherson stutte, spiraalvere en anti-rolstaaf en op die agterste veerstelsel ‘n wringstaaf met spiraalvere.

Van agter gesien vorm die geheel prentjie ‘n baie goeie indruk. Met die geronde afwerking en ‘n ingeboude mini drukvlerk word die opbou van stof op die agterste deur tot die minimum beperk. Die agterste deur maak tot op ‘n hoogte van 1956 mm oop en daar kan met gemak bagasie gelaai word. Die agterligte verseker dat die afwerking aan die agterkant ‘n baie goeie geheel beeld vorm.

Hierdie is veeldoel voertuig en kan vir ‘n verskeidenheid van gebruike aangewend word. Dit is gerieflik, praktiese en soos reeds genoem is dit voertuig van formaat. Indien u dus in die mark is vir hierdie tipe voertuig, kan u dit gerus op u aankoop lys plaas en dit neem vir ‘n toetsrit.