Minagting vir Afrikaans

Die wêreld van die kunste is ook besig om sy rug op Afrikaans te draai, en dit is nie net kunstenaars se skuld nie, daar is ook ʼn belangrike rolspeler wat Afrikaans misken.

Aan die een kant is daar die meerderheid sangers van die nuwe geslag wat wel Afrikaans gebruik om hulle sang te verkwansel. Die grootste frustrasie bestaan egter daarin dat die nuwe generasie nie sing nie – hulle skree sodat dit dikwels moeilik is om te onderskei wat hulle skree en of dit ooit Afrikaans is….

Een van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars het dit mooi gestel: Die sangers van vandag klink almal eenders. Dit is nie meer soos voorheen dat luisteraars dadelik kon weet wie die sanger is omdat elke woord duidelik uitgespreek word en die stem dadelik erkenbaar is.

Die skree “sang” het reeds bewys dat geeneen van die sangers wat di8e geraas as sang beskou, ooit een van SA se gewildste kunstenaars sal word nie. Daar is so baie voorbeelde van goeie sangers wat ons volk in die afgelope 50 jaar gelewer het, dat die skree-bende geen positiewe indruk skep by ware musiek liefhebbers nie.

Dan is daar die tweede skuldige groep:

Die vreemde optrede van radiostasies wat hulle hoog opgee as Afrikaanse senders, maak hulleself belaglik. Die radiostasie wat so graag koerant wil wees, vertel kort-kort vir sy luisteraars hoe Afrikaans hy is, en speel dan die een na die ander Engelse lied.

Dieselfde word by RSG ondervind, en Afrikaans word net misbruik om luisteraars te probeer behou, maar die misleiding is voortdurend op die speellys: Engels, alles Engels.