Kritiek teen president oor Digital Vibes/Mkhize

Die klaarblyklike betrokkenheid van die Minister van Gesondheid by die Digital Vibes skandaal het hewige kritiek ontlok teen die ANC se president, Cyril Ramaphosa.

Die president het herhaaldelik gesê die bewerings word ondersoek en die saak sal nie onder die mat ingevee word nie, maar opponente van die president sê hy moet optree soos wat met Ace Magashule gedoen is.

Die president wil egter wag tot die ondersoek na die voorval meer besonderhede na vore bring, en dan kan daar op feitelike inligting gehandel word.

Intussen is berigte op die voorblad van koerante gelaai oor die moontlikheid dat die Minister van Gesondheid deel uitmaak van die skandaal, maar tot hede het hy enige betrokkenheid ontken.

Die Engelstalige “Mail and Guardian” het berig dat minister Zweli Mkhize reeds Vrydag gereed gemaak het om sy bedanking aan te kondig.

Die beweerde skandaal waarby ʼn bedrag van R150 miljoen wat ʼn kontrak is wat onreëlmatig toegeken is, het wye reaksie ontlok onder politici, wat ook ANC lede insluit.