Die doodse stilte in ANC

Sommige meningsvormers reken die ANC president, Cyril Ramaphosa, het die leisels stewig oor gevat en wil nie verdere negatiewe gerugte in koerante lees nie.

Ander glo dit is die stilte voor die politieke tsoenami.

Die meerderheid wil weet wat word nou gedoen om diewe en korruptes vas te vat wat as ANC leiers, die land bankrot gesteel het.

Dit is doodstil oor wat met Jacob Zuma moet gebeur, en so ook met Ace Magashule, en dan is daar nog die bewerings rondom die miljoene skandaal waarby die Minister van Gesondheid betrokke kan wees.

Baie ANC lede glo die Minister moes al bedank het, en alhoewel hy beweer dat hy geen voordeel gehad het uit die bedrogspul nie, word bewerings gemaak dat hy “gereedmaak om te bedank”.

Die ANC president word verkwalik omdat hy die Minister nie op dieselfde wyse hanteer as wat Magashule se geval is nie. Die dokter se saak is “hangende tot die ondersoek gedoen is”, maar Ace is pertinente voor ʼn keuse gestel – staan eenkant of word geskors.

Dit is almal hoë profiel lede van die regerende party – waarom word ander gewone mense summier verhoor en gestraf, maar Zuma, Ace en die minister word met sagte handskoene gelei, om so lyk dit vir die gewone mense, uiteindelik vry sal kom. Die een is te oud, die ander te kosbaar, en ʼn derde is bevriend met die president, word gesê.