Afrika Unie skors Malie

Nadat die Afrika Unie kennis geneem het van die militêre staatsgreep in Malie, wat ook as ʼn kaping beskou word, het die organisasie besluit om skorsing toe te pas.

Die skorsing het gekom nadat Kolonel Assimi Goita beheer oorgeneem het met sy kaping en die arrestasie wat hy laat uitvoer het van die premier en verkose president.

ʼn Woordvoerder van die Afrika Unie (AU) sê die skorsing sal van krag bly tot die land terugkeer na ʼn demokratiese bestel en bygevoeg dat die militariste wat die land regeer, eers moet terugkeer na hulle barakke waar hulle tuis hoort.

Die Afrika Unie volg met die stap in die voetspore van die Wes Afrika Ekonomiese Gemeenskap van State wat sowat ʼn week gelede die land geskors het tot ʼn demokratiese regering verkies is.

In sy verklaring sê die AU dat die Republiek van Malie onmiddellik geskors is tot die land se militêre mag die politieke beheer terug gegee het aan die die regering en ʼn demokratiese bestel weer funksioneer.

Die AU het herbevestig dat hy sy volle steun bied aan die instelling van ʼn demokratiese bestel in Malie.