Woede oor R350 gratifikasie stop

Woede is ontketen nadat die regering en Sassa die uitbetaling van R350 per maand aan werklose mense gestaak het.

Burgerregte organisasies onder die sambreel van “Pay the Grants” beweging het die besluit veroordeel dat die R350 nie meer betaal word nie. Die woordvoerders sê hulle mense is nog steeds werkloos en kan nie sonder die noodsaaklike bedrag as inkomste lewe nie.

Die R350 per maand is toegedeel aan mense wat hulle werk verloor het tydens die pandemie, en alhoewel die regering in Januarie vanjaar besluit het om die bedrag vir nog drie maande te betaal, is daar nie voldoende fondse om voort te gaan daarmee nie.

Sassa het in ʼn verklaring gesê diegene wat nog nie verlede keer se uitbetaling ontvang het nie, sal steeds betaal word, maar nuwe uitbetalings is gestaak.