VOORGESTELDE WAPENWYSIGINGSWET

Die minister van die polisie, Mnr. Bheki Cele en die Staatspresident Mnr. Cyril Ramaphosa word hiermee uitgedaag om alle BBP beskermingsdienste aan enige regeringsamptenaar summier op te skort. Dis nou dieselfde dienste wat meer geld uit die begroting gekry het, terwyl die SAPD se ander dienste besnoei is. Die geld wat hierdeur gespaar word, kan aangewend word om regte onwettige wapens uit die kloue van misdadigers te probeer kry. Dit sal ook ’n tasbare boodskap stuur dat die regering nie hulle eie lewens meer kosbaar ag as die gewone landsburger nie.

In ’n land waar die moordsyfer reeds hoër is as in baie ander lande wat in ’n oorlog gewikkel is, is hierdie weereens ’n bewys dat die kommunistiese regering bitter min omgee vir enige van sy burgers. In onlangse statistiek deur die SAPS self uitgereik, sien ons dat daar ’n toename in kapings en gewapende roof is, tesame met die onaanvaarbare moordsyfer. Indien gewone burgers ontneem word van die reg om hulle self wettiglik te verdedig, sal hierdie syfers ongekende afmetings aanneem.

Daar moet eerder gekyk word om die wet op selfverdediging te verslap, sodat die gewone landsburger in staat is om sy eie mense en eiendom beter te beskerm. Ons weet dat die SAPD in die meeste gevalle eers reaktief optree, indien hulle enigsins opdaag op ’n toneel.

Slegs verlede week was daar in die media berig oor die SAPD se onbevoegdheid om hulle eie sentrale vuurwapen register te administreer. Hierdie lyk eerder na ’n poging om die Polisie van sy eie onbevoegdheid te probeer beskerm, as wat dit misdaad wil bekamp.

Behalwe verskeie ander problematiese nuwe voorstelle in die wysigingswet, word daar ook verneem dat burgers voortaan verbied sal word om hulle eie ammunisie te herlaai. Dit sal self ’n misdaad wees om in besit van herlaai toerusting te wees.

Met hierdie poging van die regering, wil hulle ’n streep trek teen die reg om te lewe asook kultuurvryheid.

Van ons volk se vroegste tye af, was daar ’n spesiale band tussen die Boer en sy roer. Die roer is ook deur die geskiedenis aangewend om verdedigend op te tree. Net ’n waarskuwing: Die Britte het ook tydens die Groot Trek gepoog om ammunisie en kruit verkope aan die Boere onwettig te verklaar.

Ons is oor die algemeen ’n vreedsame, wetsgehoorsame volk, ingestel op verdediging van ons eie. Hierdie situasie verander egter vinnig as daar aanhoudend onreg teen ons gepleeg word.

Die regering maak met hierdie wet die deur oop vir die grootste volksverset wat hy in sy dag des lewens beleef het.

Gaan lees gerus weer die storie van Bezuidenhout se wa.

Alwyn de Klerk

Sekretaris: Verkennersbeweging van Suid-Afrika