Virus in derde pandemie

Met die nuus dat die daaglikse infeksie van nuwe gevalle nou tot 4,300 vir die 24 uur tydperk aangemeld word, kan daar geen twyfel bestaan dat die derde pandemie van die koronavirus Suid-Afrika getref het nie.

Ontleders wat beweer dat die getal binne enkele dae gaan verdubbel, laat ernstige kommer weens die feit dat die winter hier is en mense veel vinniger infeksie opdoen en langer siek bly.

Die groter kommer is daarin dat die regering sy fase 2 inentings program hopeloos te laat begin het, en miljoene bejaarde mense se lewens is nou in gevaar.

Berigte word ontvang van stedelike gebiede se hospitale wat oorvol is van mense met koronavirus infeksie, terwyl ander pasiënte met hulle siektes geweldig sukkel om gehospitaliseer te word en om behoorlike behandeling te ontvang.

Daarbenewens is dit sorgwekkend dat die werkers in gesondheidsdienste nog nie almal geïmmuniseer is nie, wat die tempo van die inenting veldtog weerspieël.

Die Vryburger redaksie wil sy lesers baie dringend vermaan om alles moontlik te doen om nie ʼn slagoffer van die derde pandemie te word nie. Die basiese voorsorgmaatreëls is aan almal bekend> masker, hande gereeld was, handhaaf sosiale afstand, en vermy plekke waar mense saamdrom.

Dit is baie duidelik dat te veel mense te onverskillig geword het, maar die infeksie syfers toon dat Suid-Afrika ʼn geweldige styging in infeksies gaan beleef gedurende die komende wintermaande.