Uit my Kuierkombuis

Van kindsdae af was dit vir my lekker om sommer so op die ingewing van die oomblik ‘n koek te bak,  wit of sjokolade …………. En dit dan so warm uit die oond te versier net met gesifte versiersuiker.  Die mede eters,  het ook daarvan gehou!

Heelwat mense hou nie van versiering nie ……. en gevolglik bly dit dan agter in die koekbordjie.  Met vandag se prys van botter en versiersuiker,   is vandag se resep ‘n wenner omdat dit slegs ‘n bietjie gesifte versiersuiker oor die eindproduk kry!

Die smaak daarvan …. Laat jou amper dink aan ‘n vlaskyf ….

Melktertkoek

4 ekstragroot eiers geskei,  by kamertemperatuur

1 e water

½ kop + 2 e suiker (155 ml)

125 g botter,  gesmelt

Knippie sout

¾ kop koekmeelblom

1 t bakpoeier

500 ml louwarm melk

2 t vanieljegeursel

Metode:

  1.  Voorverhit die oond tot 170º C en smeer of bespuit ‘n ronde koekpan van 20cm in deursnee.  Voer die bodem uit met bakpapier.
  2. Klits die eiergele,  suiker, knippie sout, water en vanieljegeursel tot lig en romering.
  3. Voeg nou die gesmelte botter by en klits vir ‘n verdere minuut.
  4. Voeg nou die koekmeelblom daarby en meng liggies deur.
  5. Vervolgens word die louwarm melk bygevoeg waarna u die mengsel klits tot goed deurgemeng.
  6. Klits intussen die eierwitte tot styf,  maar nie droog nie en vou dit liggies in die beslag.
  7. Skep die beslag in die voorbereide koekpan en bak in die voorverhitte oond van 160º C vir ongeveer 60 minute en tot goudbruin.
  8. NB….. Laat die koek heeltemal afkoel in die pan vir ten minste 2 ure waarna u dit versigtig uitkeer en oorplaas op ‘n opdien bord.
  9. Sif versiersuiker oor,  rond af met ‘n kruisementblaartjie of twee en ‘n rooi glanskersie ……….. en bedien saam met ‘n koppie heerlike varsgebroude koffie.
  10. Vir ‘n subtiele sitrusgeur,  kan ‘n halwe suurlemoen se skil ingerasper word.

Versier dan die koek met dun gesnyde skyfies suurlemoen of van die versuikerde lemoen en suurlemoenhelftes.

Die koek vorm sy eie kors,  melktertgedeelte en …..die bolaag is brosgebak soos die  bolaag van ‘n koek …………. Heerlik!

Nadat ek dit gebak het,  moes ek vinnig ‘n paar stukkies uithou,  want die koek het vinnig verdwyn!