Uit my Kuierkombuis

Elkeen se kombuis het sy eie karakter.  Jy kry die perfekte kombuis waar geen onnodige artikels, tydskrifte, resepteboeke of enigiets rondlê nie ….. ‘n amper steriele kombuis!  Dan kry jy die kombuis waarin jy kan sien daar gekuier,  gebak en gebrou en gelewe word!  ‘n Paar jaar gelede,  het ek vir Alet Murray genader om vir my ‘n stukkie te skryf oor die kombuis.  Haar bydrae was die onderstaande Kombuiskoniging.

Ek deel die storie vandag,  in plaas van die gewone resep.  Dankie ook weer aan Alet Murray vir haar skrywe.

KOMBUISKONINGIN

Alet Murray

Die kombuis is die troonkamer van die huisvrou se koninkryk. Vandaar swaai sy haar septer oor die gesin en hul troeteldiere. Dis ook waar sy haar vervloë wensdenkery en toekomsdrome kan uitleef. Een dag kan sy ‘n wetenskaplike in ‘n laboratorium wees waar sy wonderlike nuwe geure ontdek. Die volgende dag weer ‘n kunstenaar wat in haar ateljee vrye teuels aan haar skeppingsdrang kan gee deur toringkoeke op te tower. Dan is sy weer ‘n argivaris wat die diepste geheime van haar koninkryk tussen die blaaie van resepteboeke bewaar.

Die einste rakkie vol resepteboeke laat jou verstom staan oor wat alles hier oor haar lewenspad geopenbaar word. Daar is ou koopstrokies, reseppies op flentertjies papier,  ‘n vergeelde brief van haar ouma en ‘n gedroogde madeliefie wat haar eerste kêrel vir haar gegee het. Natuurlik is daar foto’s van die kinders in skooldrag en les bes, ‘n ou R1-noot.

Delf jy dieper, vind jy bykans die hele verhaal van haar lewe se lief en leed opgesluit in haar kombuiskoninkryk. Dis ook nie net in die resepteboeke waar haar diepste geheimenisse vertroetel word nie. Dink maar byvoorbeeld aan tant Sannie se sandbotteltjie…

Susanna Viljee was ‘n pragtige meisie. ‘n Ware blom van die Overberg. Soos te verwagte, het ‘n ridder op sy wit perd haar toe eendag kom haal na die verre noorde toe. Daar beland sy op Kleindorp waar haar ridder ‘n wankelmoedige bestaan voer met sy wit perd, oftewel ‘n papgeryde bakkie waarmee hy vervoerwerk doen.
Susanna word mettertyd tant Sannie wat die pot aan die kook help hou met die bak van uithaler beskuit volgens die resep van haar Overbergse ouma . Niemand kon agterkom wat haar geheime bestanddeel was nie, maar tant Sannie se ouma het haar mooi geleer.
Tussen die botteltjies met vanielje-  en amandelgeursel het ‘n klein botteltjie vol sand gestaan. Sand afkomstig van hul plaas in die Overberg. Elke keer wanneer sy knie, het tant Sannie die botteltjie oopgemaak en aan die sand geruik. Dan word sy terug gevoer na haar ouma se kombuis en knie sy die vreugdevolle drome van haar jongmeisiedae met sterk slae in die deeg in. ‘n Emosionele bestanddeel wat sy met niemand kon deel nie.

Tant Dorie se kombuis was inderdaad ook haar bank. Diep onder die teeblare in die rooi blikkie was ‘n kardoesie met haar afknypgeldjies. Goed versteek, sodat oom Koos se tabaklus hom dit nie kon laat opeis nie. Einste oom Koos was ook maar ‘n ou karnallie wat volstrek geweier het om sy oliebesmeerde gereedskap op enige ander plek as agter die kastrolle te bêre. “Net vir solank,” was sy verskoning. Dit was maar ‘n lang uitgerekte solank en so het haar heiligdom ook sommer ‘n gereedskapstoor geword.

Natuurlik is elke kombuis ook ‘n tuisapteek. Tussen die pakkies met jelliepoeier en droëvrugte kan jy maar te dikwels botteltjies met hoesmedisyne ( gepreserveer met alkohol) , hoofpynpille en soms selfs vlooipoeier vir die katte vind. Dan is daar natuurlik ook botteltjies met versterkmiddel  soos regte, egte geelperskemampoer vir die vrugtekoek en koekstruif. Vir niks anders nie, natuurlik! En dan was daar natuurlik tant Magrieta se diep verborge sondetjie.

Magrieta du Pisanie was ‘n goeie vrou. ‘n Pragtige statige mens,  lank en slank met ‘n netjiese grys bollatjie en skilpaddopraambril, het sy ‘n verbete stryd teen die dorp se sonde gevoer. Drank en rook was verbode op haar perseel en harde woorde mog nie gebesig word nie. Op Sondae het sy ook nie eens in ‘n motorkar gery nie.
Uit tant Magrieta se kombuis het ‘n keur van fyngebak gekom. Haar kleinkoekies was sonder weerga en het behoorlik van die basaartafel af gg. Sy was ook glad nie suinig met die reseppies nie. Tog kon niemand daarin slaag om die koekies presies soos hare te kry  nie, selfs al het sy daar voor hulle oë dit uit haar boek oorgeskryf.

Na haar dood vind hulle toe ‘n halfjekkie brandewyn diep onder in die meelblik. Buite-op was ‘n handgskrewe etiket: “Een kelkie vir elke koppie meel.”

Kombuis – droomparadys vir oud en jonk, ryk en arm.  Die warmste hartklop van die huisvrou. En joune ook?