Strenger regulasies met geblikte leeus

Die bestaande regulasies oor leeus wat in aanhouding is en in privaat eienaars se besit is, gaan glo gewysig word wat die praktyk kan beëindig.

Leeus wat geteel word en later vir trofee doeleindes “gejag” word, om op die wyse toeriste te lok, gaan in die toekoms verbied word.

Die regering hoop blykbaar dat die praktyk verban sal word in ʼn poging om die land se toerisme bedryf te bevorder en kritiek oor die omstrede praktyk die nek in te slaan.

Daar is tans meer leeus in Suid-Afrika op plase waar leeus geteel word as wat andersins vry beweeg, en die regering het aangekondig dat stappe geneem gaan word om die telery en die jag van sulke leeus te staak.

Oor die afgelope dekade was die praktyk gedurig onder bespreking en is debatte daaroor gevoer, terwyl regerings in Westerse lande ook sterk gekant was teen die metode van trofee jag, maar dit is veral aktiviste wat die beskerming van diere bepleit, wat die grootste klaers is.