Pandemie drie het begin

Die derde koronavirus pandemie het sy eerste tekens gewys, en die toename in nuwe infeksies is die begin van nog ʼn vlaag wat Suid-Afrika tref.

Die Minister van Gesondheid het provinsiale departemente gewaarsku om gereed en paraat te wees vir wat in die volgende weke verwag word.

Die minister sê die skerp styging in nuwe infeksies beteken dat die land nou die derde pandemie van Covid-19 binnegaan.

Deskundiges en waarnemers is van mening dat die pandemie die gevaar inhou om veel meer omvangryk is as die tweede een, aangesien daar nuwe faktore ontstaan het.

Die variante van die koronavirus het vermeerder en met die een variant uit Indië wat pas op plaaslike terrein ontdek is, gaan die verspreiding aansienlik verhoog as mense nie groter versigtigheid aan die dag lê nie.

Daarbenewens is die stadige tempo waarteen die regering sy inenting veldtog voer, nie net kommerwekkend nie, maar ook uiters nadelig, want dit veroorsaak vinniger verspreiding van infeksie.

Slegs sowat 430,000 gesondheidswerkers is al ingeënt, wat ook die werkers in gevaar stel.

Derdens bestaan daar die moontlikheid dat mense nou onverskillig raak en dink die ergste verspreiding is verby, wat juis die verspreiding kan verhoog.

In die afgelope week het die nuwe infeksies met bykans 50% gestyg, en met die variant uit Indië kan die syfer binne enkele dae nog vinniger styg.

Tans is meer as 1,6 miljoen bevestigde gevalle van infeksie aangemeld waarvan net meer as 1,5 miljoen reeds herstel het en die totale sterftes is verby die 55,000 merk.