Nog koronavirus entstof vir SA

Suid-Afrika het goeie nuus gekry met die aankondiging dat die eerste besending van 325,260 dosisse Pfizer entstof teen die koronavirus ontvang is.

ʼn Soortgelyke besending word glo verwag om gedurende die volgende week afgelewer te word van die totale besending van 1,3 miljoen dosisse wat vir Meimaand bestem is.

Die verwagting is glo dat die lewering daarna sal verhoog tot soveel as 636,000 per week in Juniemaand.

Die entstof sal hoofsaaklik beskikbaar wees vir mense ouer as 60 jaar, en alhoewel die Pfizer entstof eers doeltreffend is na inenting van die tweede dosis, is daar ʼn mate van hoop dat die inenting veldtog momentum gaan kry.

Van die ander vervaardigers is ook entstof bestel wat glo later afgelewer sal word, maar die bewerings dat 22 miljoen mense ingeent sal wees in Maart 2022 word nie allerweë geglo nie.