Motor rubriek – Volkswagen T-Roc 2,0 TSI 4Motion R-Line DSG

Die ingenieurs van Volkswagen het navore getree met ‘n Sportnuts voertuig wat die mark met sukses kan betree. Dit is algemeen bekend dat die mededinging in die mark aansienlik is maar dit is ook ‘n bekende feit dat Volkswagen nie ‘n projek aanpak indien dit nie ‘n sukses gaan wees nie.

Die algemene tendens is om, soos ‘n aantal dekades gelede gebruik te maak van chroomafwerking. Die T-Roc is nie ‘n uitsondering. Veral van voor gesien is daar ‘n chroomstrook om die sierrooster aangebring en die hoofligte en die kolligte is LED ligte. Die R kenteken is aan die linkerkant aangebring en die Volkswagen embleem is in die middel van die sierrooster gemonteer.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is die bekende en betroubare 1984 kub. sentimeter, vier silinder, inlyn met direkte elektroniese brandstofinspuiting, met tussen verkoeler, turbo aangejaagde, petrol kragbron in plek. Hierdie kragbron voorsien 140 kW tussen 6000 en 6400 o.p.m. krag en 320 Nm wringkrag tussen 1500 en 4400 o.p.m. Dubbel oorhoofse nokaste sorg dat vier kleppe per silinder die “asemhaling” werk doen. Volgens ingeligte bronne is die Volkswagen instaat om van 0 tot 100km/u te versnel in 8,15 sekondes en volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 7,2l/100 km en die topsnelheid 216 km/u. ‘n Sewespoed DSG ratkas hanteer die krag oorbrenging na al vier wiele. Die feit dat al vier die wiele aangedryf word, verseker dat die padhouvermoë van hoogstaande aard is.

Op die snelweg is die “Volla” in sy element en dit word moontlik gemaak met onafhanklike MacPherson stutte, spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel en onafhanklike, multi-koppeling met spiraalvere en anti-rolstaaf op die agterste veerstelsel. Padhouvermoë is van hoogstaande gehalte en selfs op minder goeie paaie is die padgedrag goed. Hulp vir die bestuurder is beskikbaar by wyse van ESC stabiliteits beheer en daar kan met gemak teen ‘n skotige opdraande weggetrek word.

Wat die buiteafwerking aanbetref! Dit is ‘n lus vir die oog. Verchroomde reëlings is op die dak gepas en daar is ‘n chroomstrook wat bokant die vier deure na agter gemonteer is. Die dak gedeelte van die motor is met swart afwerking gedoen en die allooi Suzuka 19 duim wielnawe vorm deel van die sykant versiering. Die wielnawe is geskoei met Bridgestone Potenza S0001 bande met ‘n grootte van 225/40 R19 en deur die speke van die wielnawe kan die 340 mm geventileerde skywe van die voorste skyfremme gesien word en deur die speke van die agterste allooi wielnawe is die 300 mm soliede skywe te sien. ‘n ABS remstelsel met EBD en EBA hulp verseker dat die voertuig met veiligheid en gemak tot stilstand kan kom.Binne in die voertuig is daar ses lugsakke om die insittendes te help beskerm teen beserings in geval van byvoorbeeld ‘n botsing.

In die wielboë is daar plastiek beskerming gemonteer om te voorkom dat wanneer klippe van die pad opgeskiet word, dat die bakwerk beskadig word. Hierdie beskerming is reg rondom die voertuig aan die onderkant van die bakwerk gemonteer.

Word om die agterkant van die voertuig beweeg, is daar twee ovaal uitlaatpype op die hoeke tussen dit en die agterste deksel is daar luggate waardeur die lug beweeg om tydens die rem proses die agterste skyfremme te help verkoel.

Wanneer daar in die kajuit ingeklim word, is die binnekant van die voertuig ‘n lus vir die oog. Die afwerking is netjies gedoen en getrou aan sy aard is die Volkswagen van ‘n wye reeks toerusting voorsien. Op die die dikraam, leer beklede stuurwiel is daar skakelaars gemonteer vir die beheer van toerusting en al vier deure se vensters word elektries oop en toegemaak. Die sitplekke is met Quartzite Ceramique Vienna leer bekleed en die bestuurder se sitplek is meganies verstelbaar en die stuurwiel is hoogte en afstand verstelbaar. Deur die boonste speke van die stuurwiel is die elektroniese instrumente sigbaar. In die middel van die instrumentpaneel is daar aan beide kante van die aanraakskerm is die luguitlate van die lugversorger en op die ente van die instrumentpaneel is daar luguitlate van die lugversorger. Om die ratkies hefboom wat met leer bekleed is, is die afwerking gedoen met geborselde alluminium en in die middel konsole is daar pakplek vir kleinere goedere.

Vir die agterste passasiers is daar genoegsame sitplek om ‘n gemaklike sitposisie in te neem en wanneer die agterste sitplek, wat se leuning in ‘n verhouding van 60:40 verdeel platgevou word, verhoog die bagasieruimte van 200 liter na 904 liter.

Die T-Roc word in Portugal gebou en is verkrygbaar in Ravenna Blou metaalverf, wit silwer metaalverf, rooi ensovoorts. Sou u dit oorweeg om ‘n sportnuts voertuig aan te skaf of wil u u bestaande voertuig vervang, kan u gerus u naaste Volkswagen handelaar besoek en die T-Roc vir ‘n toetsrit neem.