Motor rubriek – Audi A4 40 TFSI S line S tronic

Wanneer die Audi A4 van voor genader word, skep dit die indruk dat hierdie sedan motor ‘n besonderse motor is. Dit is geskik vir dorp/stad gebruik maar dit sal primêre sowel as sekondêre paaie met gerief en gemak kan aanpak. Dit is veral op die snelweg in sy element want die padhouvermoë, getrou aan Audi, is van ‘n hoë standaard. Hier is dit belangrik om te noem dat die sleurkoëffisiënt van die A4, 0,25 is.

Wat dit ‘n besonderse aantreklike motor maak is die aansig van voor. Mat swart afwerking is gebruik vir die sierrooster asook die ander luginlate. Die bekende vier ring embleem laat geen twyfel oor wie die vervaardiger is van hierdie motor nie. Die hoofligte vorm deel van die voorste buffer met kleiner ligte ingebou daarin.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word is die dwars gemonteerde, vier silinder, 1984 kub. sentimeter, met turbo aanjaer en tussen verkoeler, veelpunt, met elektroniese brandstof inspuiting, vier silinder in plek . Hierdie betroubare petrol kragbron van Audi voorsien 140 kW krag tussen 4200 en 6000 o.p.m. en die wringkrag is 320 Nm tussen 1450 en 4200 o.p.m. ‘n Sewespoed ratkas sorg vir die aandrywing na die voorwiele en volgens die vervaardiger is dit instaat tot ‘n topsnelheid van 241 km/u en volgens ingeligte bronne is dit instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 7,66 sekondes. Die vervaardiger meld dat die brandstofverbruik 6,3 l/100km is en die brandstofhouer neem 54 liter. Daar is vir die bestuurder ESC elektroniese hulp beskikbaar vir wanneer daar teen ‘n skotige opdraande weggetrek moet word en daar word dus aan alle moontlike hulp gedink om dit gerieflik te maak.

Die eintlike gerief is binne in die voertuig. Wanneer daar ingeklim word is ‘n mens dadelik bewus van die sitkamer gerief. Daar bestaan ‘n ellelange lys van toerusting en onder dit tel die lugversorger, radio met stembeheer en bloutand, sataliet navigasie, al die deure se vensters wat elektries oop en toegemaak word met die skakelaars in die armleunings van die deure, rit rekenaar geriewe, snelheidsbeheer, banddruk monitor stelsel, die agterste sitplek se leuning wat in ‘n verhouding van 60:40 platvou, windskermveërs en hoofligte wat outomaties aanskakel, die sitplekke wat gedeeltelik met leer geskoei is, die bestuurder se sitplek wat meganies verstelbaar is, dikraam stuurwiel met skakelaars op en nog verskeie ander handige toerusting.

Deur die boonste gedeelte van die stuurwiel wat hoogte en reikafstand verstelbaar is, is die instrumente regvoor die bestuurder gemonteer met die toereteller aan die linkerkant en die snelheidsmeter aan die regterkant. Tussen die twee is daar ander kleiner instrumente gemonteer wat onder andere die brandstofverbruik aandui en nog ander inligting voorsien. In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm gemonteer met nog skakelaars weer tussen dit en die ratkieshefboom. Die ratkieshefboom pas gerieflik in die palm van die linkerhand en die oorskakeling van die ratte geskied seepglad. Tussen die voorste sitplekke is daar plek gemaak vir koeldrank/beker houers en dit is veral gerieflik om te hê wanneer die lang pad aangepak word.

Die vier deure van die Audi maak gerieflik groot oop en die allooi wielnawe geskoei met Continental SportContact 6 met ‘n grootte 245/35 R19 vorm ‘n eenheid met die bakwerk. Die geventileerde 338 mm remskywe op die voorwiele en 300 mm geventileerde remskywe op die agterwiele van die ABS remstelsel met EBD en EBA hulp sorg dat die motor met gemak en veilgheid tot stilstand kan kom, kan deur die speke van die wiele gesien word. ‘n Verder deel van die veiligheidstelsel is verskeie lugsakke wat in die voertuig gemonteer is waarvan een in die middelste gedeelte van die stuurwiel geplaas is.

Audi se ingenieurs het hulle werk deeglik gedoen en wanneer daar agter om die voertuig beweeg word vorm die agterligte ‘n eenheid met die bakwerk en die bagasiebak se deksel. Die A4 kenteken aan die linkerkant onder die agterlig laat geen twyfel watter motor daarna gekyk word nie. Wanneer die bagasiebak se deksel oopgemaak word is daar bagasieruimte van 328 liter beskikbaar en wanneer die agterste sitplek se leuning platgevou word, verhoog dit na 832 liter.

Die veerstelsel wat in die motor gebruik word is die beproefde, onafhanklike, multi-koppeling met spiraalvere en anti-rolstaaf op die voorste veerstelsel met ‘n onafhanklike, multi-koppeling met spiraalvere en anti-rolstaaf op die agterste veerstelsel. Hierdie beproefde stelsels sorg dat die Audi ‘n motor van formaat is.

Hierdie motor is beskikbaar in verskeie kleure en om u eie keuse uit te oefen kan u gerus u naaste Audi handelaar gaan besoek en u gaan verlustig aan hierdie in Duitsland geboude motor.