Magashule magsbasis uiters gering

Ace Magashule, die geskorste ANC Sekretaris-Generaal, het toe nie so ʼn stewige magsbasis as wat vermoed was nie, want nou het die vakbond Cosatu ook stem dik gemaak teen hom.

Magashule het net tyd tot die einde van die week om die president, Cyril Ramaphosa, om verskoning te vra vir sy optrede.

Magashule se brief waarin hy gesê het hy skors die president, was die vonk in die kruitvat wat hom duur te staan gaan kom as hy nie gehoor gee aan die opdrag nie.

Hy het wel gesê hy sal nie om verskoning vra nie, maar dit gaan hom berou en kan beteken dat hy uit die ANC geskop kan word.

Die vermoede dat Ace steun vanuit Cosatu sou mobiliseer, het nou ook soos mis voor die son verdwyn nadat die vakbond gesê het Ace is nie groter of belangriker as die president nie, en ook nie belangriker as die ANC nie.

Cosatu sê verder die sekretaris-generaal moet die spel volgens die boek se reëls speel, en nou sit Ace met die werklikheid dat hy nog sowat 24 uur tyd het om verskoning te vra.