Integriteit

Die praktyk om eerlik te wees. ‘n Konsekwente en kompromielose nakoming van sterk morele en etiese beginsel en waardes.  Dit is die verklaring van die woord volgens Wikepedia.

Die woord “Integriteit” word die afgelope tyd gereeld gebruik en veral deur die ANC wanneer daar van die Integriteit Kommissie gepraat word.  As daar na ander lande gekyk word , word so ‘n  kommissie beskryf as ‘n liggaam wat  korrupsie beveg deur die toepassing van  anti-korrupsie wetgewing, beleid en inisiatiewe.  Dit moet ook gedoen word  deur hoogs bekwame personeel en sisteme, prosesse en prosedure.

Die Suid Afrikaanse weergawe van die kommissie bevat lede soos Tony Yengeni, Bheki Cele, Humphrey Mmemezi,  al drie persone wat aan korrupsie gekoppel word en geskors was in hul poste. Daar het selfs oproepe vanuit die ANC gekom dat die kommissie ontbind moet word weens selektiewe optredes – dit so laat as  Februarie 2021.  Verder word die kommissie beskuldig daarvan dat hul ‘n blinde-oog draai teenoor die grootskaalse Staatskaping.

Vanuit die binnekringe van die ANC word die oproepe afgemaak en lede word versoek om deur die kanale te werk as hul probleme het.  Dus beteken integriteit in Afrika-taal dat  reëls en selfs wetgewing slegs van toepassing is op sekere lede van die party.  Dit laat mens dink aan George Orwell se Animal Farm.  “Some animals are more equal than others”.