Elektriese voertuie verloor waarde

In Suid-Afrika is daar nog ʼn beperkte aantal elektriese motorvoertuie  (e-motors) beskikbaar, en waarskynlik is daar voldoende rede waarom die nuwe motors se gewildheid nog nie is soos in Europa nie.

Die onlangse verslae wat vrygestel is, dui daarop dat die e-motors se tweedehandse waarde skerp daal binne die eerste jaar, wat vir die koper van so ʼn voertuig voordelig kan wees.

Redes wat aangevoer word vir die vinnige vermindering in waarde verskil van streek en modelle. Die onvermoë van die nasionale kragvoorsiener om goeie diens met kragvoorsiening te lewer, het klaarblyklik ook ʼn invloed op die prys van tweedehandse motors. Die motors is nog redelik onbekend, en bekommernis oor die lewensduur van die batterye laat mense met huiwering daarna kyk om so ʼn motor aan te skaf.

Kenners wys daarop dat die vervanging van die stel batterye nie baie ekonomies is nie, en dit skrik mense af om ʼn tweedehandse e-motor te oorweeg. Daarbenewens is daar nog te min brandstof plekke wat elektriese punte het waar herlaai gedoen kan word.

Mense wat reeds oor ʼn sterk sonkrag stelsel tuis het, kan egter baat deur die herlaai gratis te doen, wat ʼn groot besparing is op brandstof.