Die trefwydte van korrupsie

Regter Zondo het, na berig word, aangekondig dat “weens tyd beperkinge” hy nie volledige bevindinge gaan maak oor elke saak aangehoor nie.

Klaarblyklik meen hy dat die land se wetstoepassers toegerus is om enige sake wat hy nie spesifiek oor verslag doen nie, verder te ondersoek.

Dit is nou dieselfde wetstoepassers wat president Ramphosa erken het jare lank hulle voete gesleep het, en dus die Zondo-kommissie noodsaaklik gemaak het.

Kenners meen egter hierdie is ʼn wesentlike rooi lig.

“Hoe kan meer as R 1 miljard van belastingbetalers se geld spandeer word, vir onvolledige bevindings?”.

Dit versterk vermoedens dat Zondo aangestel was om die ANC te verontskuldig, en bloot enkele “uitsonderings” aan die kaak te stel, sonder om daadwerklik elke skuldige sonder voorbehoud te identifiseer en vervolg.

Die ANC en hoofstroom media het uit die staanspoor ʼn vals naratief voorop gestel, dat die Zuma-jare ʼn uitsondering sou wees.

Dat Ramaphosa en sy lojaliste bes moontlik deel gaan wees van die kamp oor wie “geen bevindings” gemaak kan word nie, blyk nou verseker te wees.

Dit illustreer hoe wyd korrupsie strek.

Van invloedryke individue soos Thuli Madonsela se voorstel van korrupsie-amnestie, tot hierdie nuutste vergryp teen belastingbetalers.

Korrupsie is duidelik in die grein van elemente van ons samelewing ingebed.