Beslissing oor e-tol binne weke

Die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, sê die finale beslissing oor die toekoms van die omstrede e-tol in Sentraal Transvaal sal binne die volgende twee weke bekend gemaak word.

Mbalula het die Nasionale Raad van Provinsies toegespreek en gesê die besluit word nog afgewag oor wat die toekoms van die e-tol is.

Die minister beweer dat daar oor-en-weer gekommunikeer word met die Nasionale Tesourie oor die aangeleentheid, maar dat die einde van die proses nou nader gekom het.

Alhoewel daar hoop is dat die stelsel afgeskaf gaan word in die lig van die swak finansiële prestasie van die e-tol stelsel, is daar deur ingeligte bronne feitlik geen hoop dat die kontroversiële stelsel geheel en al afgeskaf sal word nie.

Sedert die stelsel in werking getree het, was daar nog geen oomblik dat die e-tol stelsel voldoende inkomste gegenereer het om al sy verpligtinge na te kom nie, en die weerstand van Outa wat motoriste aangemoedig het om nie e-tol te betaal nie, het sake verder bemoeilik.