ANC wen geloofwaardigheid

Swart kiesers begin weer vertroue kry in die ANC regering nadat dit bekend geword het dat senior posbekleërs geskors word en dat korrupsie bestry word.

Dit is die mening van ʼn volkekundige wat die politieke verdeeldheid van die regerende party met valkoë dophou.

Hy sê daar is duisende ANC ondersteuners wat siek en sat is vir die diefstal, misdaad en korrupsie waarby hoë leiers van die party betrokke is.

 Die feit dat die Sekretaris-generaal, Ace Magashule ook geskors is, het groot indruk gemaak op die meerderheid party ondersteuners, alhoewel hulle nie besef dat die skorsing grotendeels oë verblindery is nie.

Die ANC hoop om meer steun te kry uit die kiesers vir die komende verkiesings op plaaslike vlak, en wil ook in sy vertoonvenster iets uitstal wat wys dat korrupsie “tasbaar” bestry word.

Die ANC president se aansien het glo verbeter onder die gewone kiesers, en met sy meerderheid steun in die party hiërargie kan Ramaphosa dalk beter vaar as wat aanvanklik verwag is, word gesê.