ANC regering wil bank stig

Die Nasionale Tesourie sê daar word vorentoe beweeg met die oprigting van ʼn staat beheerde bank vir Suid-Afrika, en dat die president, Cyril Ramaphosa, en die Minister van Finansies, Tito Mboweni, ten gunste is van die oogmerk.

Die afgelope week het die direkteur-generaal van die SA Tesourie, Dondo Mogajane gesê die nuwe staatsbeheerde Bank vorm deel van die hervormings van die ANC se president.

Onbevestigde berigte lui dat die lede van die Komitee gemoeid met die saak, die tesourie verkwalik omdat daar gesloer en voete gesleep word met die uitvoering van die aangeleentheid om die Bank tot stand te bring.

Deskundiges op die ekonomiese terrein het hulle kommer uitgespreek oor die beplande oprigting van ʼn staatsbeheerde Bank en sommige ontleders sê dit word uiteindelik nog ʼn entiteit wat nie die mas gaan opkom nie.

Kommer bestaan ook dat dit weer ʼn korrupsie geleentheid skep wat eers na ʼn tyd ontdek gaan word, om soos talle ander entiteite van die staat lei tot verdere las op die staatskas om staande te bly.