Ace versag sy aggressie

Die geskorste ANC sekretaris-generaal, Ace Magashule, het sy bravade en aggressie versag in die afgelope paar dae, en of die besef nou deurgedring het dat hy nie so sterk steun het as wat hy gedink het nie, sal eers later vasgestel kan word.

Sy aggressie teenoor die ANC se partyleiers het van veglus na redelikheid versag, en skielik is die bevel dat hy moet terugstaan, nie meer ʼn saak wat hy in die hof wil beslis nie.

Sy bravade om ANC takke te mobiliseer teen die leiers se besluite, het klaaglik misluk, en al sy dreigemente het sy berg tot ʼn molshoop laat krimp.

Sy kaartehuis het inmekaar getuimel toe sy hofstukke daarop gebaseer is dat die “staan eenkant klousule” ongrondwetlik is, en die ANC as verweer aangebied het dat Magashule was deel van die bestuur toe die besluit eenparig geneem is.

Kenners wys daarop dat die nederlaag van Zuma in die Grondwethof, en Magashule se terugdeins die bewys is dat hulle nie oor die steun beskik waarop hulle gereken het nie. Selfs die MK Veterane het stil geword, sê politieke ontleders.