VSA en Russe ontmoet oor Oekraine

Biden en Poetin

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het sy Russiese eweknie, President Vladimir Poetin, versoek om nie verder troepe na die oosgrens met Oekraine te ontplooi nie.

In reaksie daarop het Rusland gesê die troepe wat ontplooi is, word benodig om hulle jaarlikse militêre opleiding te ondergaan.

Die twee staatshoofde was Hiermee in hulle tweede gesprek sedert Biden president van Amerika geword het, en die twee se telefoniese gesprek waartydens die situasie in die Oekraine bespreek is, het nie juis veel opgelewer na enige kant nie.

Waarnemers sê die Amerikaanse president het voorgestel dat hulle mekaar ontmoet om die aangeleentheid deeglik te bespreek, maar Rusland het gesê dit is nog te vroeg om te sê of so ʼn ontmoeting binnekort sal plaasvind.

In n verklaring wat deur die Wit Huis uitgereik is, sê Biden die VSA is bekommerd oor die skielike Russiese militêre opbou in die Krim gebied en naby die grens met die Oekraine.

Die verklaring lui verder dat Amerika ferm sal reageer in verdediging van sy nasionale belange indien Russiese optrede sodanig is dat die VSA dit nodig sou vind.

Biden sê hy wil sien dat die situasie gestabiliseer word en ʼn deeglik voorspelbare verhouding met Rusland handhaaf.