Vryheidsdag

Dit is wel so dat miljoene mense in Suid-Afrika nou voel dat hulle vry geword het, en dat dit heerlik is om op 27 April vanjaar, weer Vryheidsdag te kan vier as openbare vakansiedag.

Dit is egter die Boere-Afrikaners, wat in die referendum “Nee” gesê het vir die FW de Klerk oorgawe, wat vandag nog net so bewus is daarvan dat die leuens van destyds gelei het tot die ontneming van ons volk se vryheid.

Die geskiedenis sedert 1652 het glashelder getoon hoe ernstig die strewe na vryheid is, en die een republiek na die ander is gestig, van Swellendam tot by die twee Boere Republieke, en daarna die Republiek van Suid-Afrika.

Daardie vryheid, wat gepaard gegaan het met bouwerk met ongekende ywer en erns, is met leuens van sogenaamde eie skole, eie woonbuurte en eie transport aktes van die volk ontneem. Die vryheid is nie net ontneem nie, die volk het in slawerny verval en het vreemdelinge geword in sy duur gekoopte land.

Die Boere-Afrikaner se vryheid beteken dat hy nie mag werk in ʼn staatsdepartement nie, veel eerder word sy kundigheid verwerp en vervang met Kommunistiese Kubane om die afgetakelde infrastruktuur te probeer herstel.

Ons volk kan nou net roem op ons roemryke verlede, op ons trots van ʼn land wat eens die modelstaat van die kontinent was, maar wat verval het tot ʼn derderangse Afrikastaat waar alles afgebreek en verwaarlosing aan die orde is.

Daar is die een wonderlike vooruitsig – ons is in Jesus Christus ʼn ware vrye volk, wat in nederigheid Sy aangesig soek om ons te lei op die weg wat Hy vir ons gebaan het.