Uit my Kuierkombuis

Warm geregte word nogal gesien as trooskos …….. dit maak jou warm van binne. Sit nou geurigheid daarby ……… en jy het ‘n wengereg!   Aartappels is heerlik so op sy eie,  gekook,  gebak,  in die vorm van aartappelskyfies of kapokaartappels.  Vandag se resep geur ons met onder andere spek, soppoeier en cheddarkaas asook melk om die gereg volledig te maak.  

AARTAPPEL GEBAK
8 groot aartappels
30 ml (2 e)  kookolie
125 g ontbytspek snippers
60 g-pakkie sampioensoppoeier of wit-uiesoppoeier
750 ml (3 k) melk
varsgemaalde swartpeper na smaak
3 ml (½ t) droë origanum 

5 ml (1t) veggie speserye
125 ml (½ k) gerasperde cheddarkaas

 ** 2 uie in ringe gesny

METODE:
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer of bespuit met ‘n kleefwerende kossproei ‘n oondvaste bak.

1.  Skil die aartappels en kook heel tot sag, maar steeds ferm.

2.  Sny in skywe en pak die helfte in die bodem van ’n groot, oondvaste bak.
3.  Verhit die olie en braai die spek tot gaar en laat dit solank eenkant staan. 
4.  Meng soppoeier met melk in ’n swaarboomkastrol. Bring tot kookpunt en roer aanhoudend vir ’n paar minute totdat dit begin verdik.

5.  Voeg die peper en origanum by.
6.  Giet die helfte van die sous oor die eerste laag aartappels.

7.  Pak die oorblywende aartappels oor die sous.

8.  Skep die spek bo-op en giet die orige sous oor.en strooi die kaas bo-oor.

9.  Garneer met ‘n bietjie paprika en gedroogde pietersielie.

10.  Bak die aartappel gereg vir 20-30 minute in ’n voorverhitte oond teen 180°C of tot goudbruin.

Hierdie aartappelgereg kan voorgesit word wanneer jy onthaal vir ‘n redelike groot groep mense as ‘n bygereg en is ‘n wenner veral saam met braaivleis.

Net voor opdiening kan u ook ‘n bietjie vars gesnipperde pietersielie oorstrooi vir kleur.

**  Die aartappel gereg kan verder geurig gemaak word deurdat twee gebraaide uie (in ringe gesny vooraf), gesoteer in ‘n 30 ml botter,   tussen die lae aartappelskywe gepak  word veral wanneer u die uiesoppoeier gebruik.

(Lewer 4-6 porsies)