Uit my Kuierkombuis

Met die herfs in die lug begin ons lus kry vir geregte soos bredies,  sop en gebakte pasteie.  ‘n Resep wat ek goed onthou uit my kinderdae van my Ouma en my Ma,  was ‘n geurige herderspastei, met sulke romerige kapokaartappels bo-op die geurige maalvleismengsel. 

Nou ja,  kom ons kyk na die resep se bestanddele!

Heerlike Herfs Herderspastei

Deel 1: Kapokaartappels 

4 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny – gaar gekook in bietjie water gegeur met sout

1 eetlepel botter

1 eetlepel fyngekapte ui

30 ml warm volroommelk

¼ t bakpoeier

¼ koppie gerasperde cheddarkaas

Sout en witpeper na smaak

Metode:

Kook die aartappels vir sowat 15 minute of tot die aartappels gaar  is. 

Dreineer en maak die aartappels fyn. 

Meng vervolgens die botter, 1 eetlepel fyngekapte ui, en ¼ koppie gerasperde kaas by. 

Voeg sout en peper by na smaak en hou eenkant

Deel 2: Vleisvulsel

5 wortels, in repies of klein blokkies gesny

1 eetlepel olie

1 ui, gekap

600gr binneboud maalvleis

2 eetlepels meel

1 eetlepel tamatiesous 

1 e blatjang

¾ koppie vleis aftreksel (beesblokkie aangemaak in ¾ kop water)

sout en peper na smaak

1.  Voorverhit solank die oond tot 180 C. 

2.  Kook wortels vir ongeveer 15 minute of tot sag en maak fyn en hou eenkant. 

3.  Soteer die  gekapte ui tot sag en voeg die maalvleis by en braai tot bruin. 

4.  Voeg nou die meel by en braai vir ‘n verdere minuut of so . 

5.  Voeg die blatjang, tamatiesous  en vleisaftreksel by en bring die mengsel tot kookpunt,  verminder dan die hitte en prut vir 10 minute. Indien nodig kan sout en peper na smaak bygevoeg word, maar hou ingedagte dat die vleisaftreksel sy eie geurigmiddels het. 

6.  Die mengsel moet ‘n lekker dikkerige mengsel wees.

7.  Skep  die maalvleismengsel in ‘n plat bak. Skep die gaar fyngemaakte  wortels bo-oor en dan die laag kapok aartappels..

8.  Maak allerhande patroontjies met ‘n vurk se agterkant  en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin in die voorverhitte oond van 180° C.

** Die puntjies van die kapokaartappels wat lekker bruin en bros gaan word in die oond,   rond die eenvoudige gereg netjies af.

Geniet die outydse lekkerny met ‘n effense nuwigheid met die wortellagie onder die kapokaartappel “kombers”.