Uit my Kuierkombuis

Het jy ‘n prutpot (slow cooker)?  Gebruik gerus dié handige hulpmiddel in jou kombuis!  Jy hoef dit nie net vir bredies of vir boontjiesop te gebruik nie!  Jy kan nagereg daarin maak,  brood bak en selfs heerlike macaroni en kaas daarin maak! 

Kom ons begin sommer by die heerlike macaroni en kaasgereg!

PRUTPOT MACARONI en KAAS

(4 – 6 porsies)

Bestanddele:

1 liter melk 
2 groot eiers 
1 teelepel mosterdpoeier 
 2 eetlepels flippenlekka speserye 
gekapte vars pietersielie of ander vars kruie 
vars gemaalde swartpeper 
250g elmboog-macaroni (rou) 
2 koppies gerasperde cheddarkaas 
Nou kan u een of meer van die volgende byvoeg:  (hou kleur ingedagte)
½ ui, fyn gekap 
Weense worsies, gesny 

1 blik gedreineerde mieliepitte
spekvleis, fyn gekap 
sampioene, gesny 
soetrissie, (groen, geel en rooi gemeng) fyn gekap 

Garnering:  tamatie, mieliepitte en gesnipperde vars pietersielie
METODE:

  1.  Bespuit die binnekant van die prutpot met kleefwerende kossproei.
  2. Klits melk, eiers en geurmiddels saam.
  3. Meng met macaroni-stukkies en roer die kaas by.
  4. Voeg enige opsionele bestanddele nou by en meng dit eweredig deur die res van die mengsel. 
  5. Bedek die prutpot en kook vir 2 tot 5 ure op laag of vir 1 tot 3 ure op hoog. Die gaarmaaktyd sal afhang van die grootte van die pot asook die  hoeveelhede wat in die pot is. 

**  Wenk:  Moenie die deksel onnodig oplig nie,  want onthou dit sit die gaarmaaktyd met ten minste 15 minute terug en verleng gevolglik die gaarmaaktyd.

**  Vir ekstra subtiele geur,  kan u ‘n knoffelhuisie kneus en die bak daarmee smeer voordat u die prutpot voorberei met die kleefwerende kossproei.

Maak net altyd seker ……. Sommige van die groot prutpotte het ‘n laag, hoog en dan nog ‘n derde verstelling.  Vir meeste van die geregte wat ons in die prutpot maak,  gebruik ons die HOOG (high).  Maak dus net seker dat jou pot op die regte verstelling is.

My Prutpot is goud werd in my kombuis!!!