Taiwan: VSA stuur “nie-amptelike” afvaardiging

Die Amerikaanse regering het met ʼn slim slenter die Sjinese regering se bloeddruk die hoogte in gejaag deur ʼn “nie-amptelike” afvaardiging na Taiwan te stuur.

Die afvaardiging is na Taiwan nadat Sjina die VSA gewaarsku het om nie “met vuur te speel deur betrokkenheid in Taiwan” voort te sit nie.

Nadat dit bekend geword het dat ʼn nie-amptelike afvaardiging na Taiwan is, het Sjina geëis dat die VSA onverwyld die optrede staak en die afvaardiging terug roep na Amerika.

Sjina het in die afgelope maande sy militêre aktiwiteite verskerp naby die Taiwannese eiland, en maak gereeld gebruik van geleenthede om die Taiwannese lugruim te skend met verby vlugte van vegvliegtuie ten einde die regering en inwoners van die land te intimideer.

Die VSA het volgens politieke ontleders, nog geen internasionale oortreding begaan nie, aangesien Sjina gesê het die VSA moet dit staak om amptelike interaksie met Taiwan te voer.

Die VSA het seker gemaak dat dit wêreldkundig word dat dit ʼn “nie-amptelike” afvaardiging is wat besoek aflê in Taiwan.