Steeds drama in Suezkanaal

Alhoewel die Suezkanaal reeds vir etlike weke weer oopgestl is en handelsvaartuie heen en weer deur kan vaar, is die drama nog nie verby nadat die reuse vragskip die kanaal geblokkeer het nie.

Die reuse vragskip, Ever Given, en sy vrag wat miljarde dollar in waarde is, mag nog steeds nie die gebied verlaat nie weens die uitstaande bedrag wat betaalbaar is aan die Egiptiese owerheid.

Die versekeringsmaatskappy van die Ever Given het ʼn dispuut verklaar oor die rekening van $916 miljoen wat deur die Suezkanaal Owerheid gehef is.

Die versekeringsmaatskappy sê die Suezkanaal Owerheid het nie ʼn gespesifiseerde rekening beskikbaar gestel nie en daarsonder kan die rekening nie afgelos word nie.

Die Londen gebaseerde seevaart versekeringsmaatskappy UK P& I vra vir ʼn billike en gemaklike resolusie van die eis sodat die Ever Given in staat gestel kan word om met sy vrag na sy eindbestemming te vaar waar duisende handelaars en maatskappye wag op die voorraad wat aangekoop is.

Intussen is ʼn hofsaak in Egipte gehou waarin die versekeringsmaatskappy sy saak gestel het  en gepleit het dat die vaartuig toegelaat moet word om sy vrag te lewer by die bestemming, maar die hof het nie die eis toegestaan nie.

Intussen is die 25 mense aan boord ook vasgevang en mag nie die skip verlaat sonder toestemming nie.