Soektog duur voort na duikboot

Die soektog na die vermiste duikboot van Indonesië duur onverpoost voort, en kommer bestaan oor die 53 mense aan boort wat nou reeds die tweede dag vermis word.

Reddingswerkers het intussen rapporteer dat ʼn groot oliekol gevind is naby die plek waar die boot was toe kommunikasie kontak met die vasteland verloor is.

Die owerheid in Indonesië het ook ʼn beroep gedoen op skepe wat in die omgewing is om op die uitkyk te wees vir enige tekens wat moontlik opgevolg kan word om die vermiste duikboot op te spoor.

Die 44 jaar oue KRI Nanggala-402 duikboot, wat in Duitsland vervaardig is, het met 53 mense aan boord, skielik kontak verloor met die vasteland se beheerstelsel toe die tuig sowat 100 kilometer van die kus van die eiland Bali was.

Twee vaartuie met sonar fasiliteite aan boord is intussen ook ontplooi om bystand te verleen in die soektog.

Indonesië sê sy oproep om hulp is beantwoord deur Australië, Singapoer en Indië, wat die hoop laat opvlam dat die tuig binnekort gevind sal word.

Die vermiste duikboot beskik oor die vermoë om genoeg suurstof te lewer aan die 53 mense vir ʼn tydperk van 72 uur.